Altyd wanneer al drie ons dogters en al die kleinkinders by my ma gaan kuier het het sy altyd gesê “Ek is ‘n ryk vrou.” Nouja, in dieselfde sin is ek nou ‘n ryk vrou want drie van my vier kinders bly nou weer by die huis.
Ouboet het teruggetrek huis toe die tyd toe hy sou trou (wat toe nooit gebeur het nie) en het amper drie jaar later nog nie die nodigheid gesien om sy eie blyplek te soek nie – dis mos lekker by ma. Dis vir my ook lekker om hom hier te hê want hy werk ook mos vir homself en dan is dit nie so eensaam en alleen hier by die huis nie.
Kleinboet het nou pas klaargemaak met sy studies in Potch en moet nou die wêreld van werk aandurf. Hy het sommer met al sy meubels sy intrek in my tuiskantoor geneem en bly lekker privaat buite in die lapa.
Kleinsus het verlede jaar besluit sy sien nie meer kans om in ‘n kommune te bly nie – sy sal eerder elke dag inry klas toe – ten spyte van die 102 km afstand en R19-00 se tolgeld per dag. Sy het gesê dat sy net te veel na die huislikheid en die honde verlang. Ek het gesê sy moet dit net met haar pa uitklaar en as hy sê dis reg het ek nie ‘n probleem daarmee nie – sy het in alle geval net vier aande van die week in die kommune geslaap.
Dit bring ons by vandag toe Kleinboet in Rosebank in Johannesburg begin werk het. Hy gaan as die enigste man tussen ‘n spul vrouens in ‘n groot kantoor werk, maar dit pla hom gladnie. Hy is mal oor meisies en was nog altyd baie populêr onder die skone geslag. Hy was eerder bekommerd oor hoe laat hy die Gautrein moet haal en waar hy gaan parkeer, ens. Dit was vir my so fantasties toe Ouboet besluit het hy gaan saam met hom Rosebank toe met die Gautrein vir sy eerste dag net sodat hy nie so hoef te stres oor alles nie. Hulle is vanoggend 6:30 hier by die huis weg en dis nou 9:30 en Ouboet is alreeds terug by die huis. Mission accomplished. Kleinboet is veilig in Rosebank afgelaai en reg om te begin werk.
Dit maak my moederhart sommer warm om te sien dat my kinders regtig so baie vir mekaar omgee.
Op ‘n minder jubelende noot moet ek my nood bekla oor hierdie ellendige Multifokale bril (dis vir my nogal ‘n gepaste naam daarvoor) wat ek gekry het. Met my eerste van hierdie tipe bril kon ek gladnie sien nie en die oogkundige het gereken dis omdat ek links is want linkshandige mense sukkel glo soms met die multifokale lense (ek weet, ek het maar daarvoor geval). Nodeloos om te sê, ek het my hierdie keer (14 jaar later) weer laat inpraat in een van hierdie goed in. Ek kan niks sien nie. Die bril is al terug na die laboratorium toe en die lense is vervang. Nou kan ek bietjie sien maar dis vir my so ‘n inspanning, dat dit makliker is om sonder die bril te probeer lees en ek is stokblind nabysiende. Ek weet regtig nie of dit moontlik is om daarby aan te pas nie want dit voel vir my dat ek die bietjie sig wat ek het heeltemal gaan befoeter in die proses. Enige raad?
Onlangse Kommentaar