Tuiste

Wat die tuin my geleer het

4 Kommentaar

Ek het mos by google leer tuinmaak, maar daar is ‘n paar goed wat ek wys geword het uit hierdie proses.

1. Moenie haastig wees nie – die natuur het sy eie tempo en laat hom nie aanjaag nie. Of jy nou wag vir bossies om op te kom of jou eerste boontjies om te blom, of die mielies wat die langste geneem het om te begin groei – dit gebeur op hulle eie tyd.

2. Rotte hou van spinasie. Ek het eers gedink dis besies en slakke wat die spinasie vreet, maar tenspyte van ‘n walglike aftreksel van rissies, knoffel en basieliekruid met skottelgoedseep, olyfolie en molasses waarmee die plante gespuit is, is hulle heeltemal afgevreet. My buurvrou bring vir my Racumin rottegif van haar werk af want dis blykbaar nie giftig vir honde en voëls nie. Ons sal sien of dit help. Ten minste het ons nou vir ‘n rukkie baie gesonde rotte in die omtrek.

102_0509

3. Alle afrikaners is nie dieselfde nie – ten spyte van die prentjie op die pakkie. Ons het net dwergafrikaners geplant maar ons het reuse-afrikaners grootgemaak.

102_0510

4. Die drie-suster beddings klink fantasties maar dit werk nie so goed uit nie. Nie een van die rankbone het teen die mielies opgerank nie en dit lyk baie deurmekaar as die pampoenranke begin groei. Ek gaan volgende jaar die mielies in rye plant voor in die tuin en die pampoene verban na ‘n nuwe area tussen die bome wat ons sal skoonmaak.

102_0513

5. Die inheemse Suid-Afrikansers hou nie van baby marrows nie. Hulle wil nie eers die blare pluk vir marog nie. Dit het veroorsaak dat daar vreeslik baie teenage marrows was, en ek moes planne maak met al die baby marrows wat nie aftrek gekry het nie: ek het baby marrow picallili, murgpampoentjiebrood, tamatie- en uiesmoor met gerasperde baby marrow in, ens gemaak. Nodeloos om te sê, my huismense wil nie gou weer ‘n baby marrow sien nie.  Daarby was ons kompleks se tuinman  vreeslik ontsteld omdat almal die ysterpampoene vroeg gepluk het voordat hulle kon groot word. Volgende jaar plant ek net butternuts want hulle kan vroeg gepluk word.

6. Moet veral nie jou toon breek op 5 Desember sodat jy nie in die tuin kan kom as die roes begin oorneem nie.

102_0511

Die roes het veral die pampoene en tamaties aangeval. Volgens my vriend google, moet mens net dadelik al die aangetaste blare afbreek en weggooi en dan spuit jy die plante met ‘n water en koeksoda- oplossing wat die pH verander, en waarvan die roes nie hou nie. Ongelukkig het die roes oorgeneem in die tyd wat ek skaars kon loop met die blêrrie voet wat so seer was. Die tamatieplante is al almal uitgetrek en die bedding opgeruim – ek wil nou ertjies daar plant vir die winter maar ek is nog nie seker wanneer mens hulle kan begin plant nie. My ma sê ek kan hulle eers in April plant. Sal uitvind.

7. Geen groente groei goed in die skaduwee nie. Hierdie is vier rye sweetcorn wat terselfdertyd as die driesuster-beddings geplant is. Daar het amper niks opgekom nie.

102_0507 102_0514

Ons het al begin om die beddings bietjie aan te skuif na die sonkant toe. Ek sal geleidelik elke jaar so twee meter aanskuif totdat die hele tuin heeltemal in die son is.

8. Ek praat nie worteltaal nie. Daar gaan niks by die wortelbedding aan nie – hulle is nog nie eers so groot soos ‘n pinkie nie. Miskien wil die wortels ook heeltemal in die son wees. Ek het op google gelees dat  groente wat onder die grond groei minder son nodig het maar dit lyk my dis nie heeltemal waar nie.

9. Ek moet uitvind wat beet lekker soet maak. Die beet was heeltemal sag maar nie heeltemal lekker nie.

Die geroeste pampoene is vir my so ‘n oogseer maar die mense pluk nog baie van die jong blaartjies vir marog en die mielies is nog nie reg om te pluk nie , so ek moet maar uihou.

Ek is nou  besig met voorbereiding vir die wintertuin. Ek het al twee soorte koolsaad geplant om saailinge te maak, asook, blomkool en brokkoli. Dit sal interessant wees om te sien wat dit oplewer.

Advertisements

Nes ek verwag het!

5 Kommentaar

Die bossies het oorgeneem.

102_0482 102_0484

Ek was bang dit gaan gebeur maar almal het gedink ek soek die bobbejaan agter die berg. Wel, mense, ek was reg, die bossies het oorgeneem. En moenie vir ‘n oomblik dink ek sit terug en kyk vir die bossies nie – ek trek elke dag vir seker so ‘n uur bossies uit. Ek konsentreer net meer op die area tussen die beddings, en toe ek my weer kom kry lyk dit so aan die voorkant van die tuin.

Wel, saam met dierbare ou Johannes het ek ‘n hele dag lank bossies uitgetrek – my rug en sy rug is af – en dis hoe dit nou lyk.

102_0495 102_0497

Wat my moed amper breek is die gedagte dat dit vir die volgende sewe jaar so sal gaan voordat ons die geveg teen die bossies gewen het. Blykbaar neem dit (volgens google) sewe jaar vir al die saad van bossies om te ontkiem en dit terwyl jy nooit weer toelaat dat ‘n bossie saadskiet nie.

‘n Riem onder my hart is hoe goed almal die gees van die tuin verstaan en hoe almal dit geniet om in die tuin rond te loop – maar beslis nie om bossies uit te trek nie. Ek gaan ‘n groot kennisgewingbord opsit wat sê dat almal welkom is in die tuin en enigiets wat ryp is kan pluk, solank dit in een sak kan inpas en solank hulle vyf bossies uittrek vir elke ding wat hulle pluk.

Ek gaan nou my seldery- en basielieplantjies (wat ek self gesaai het in ‘n bak) uitplant. Dan het ek ook lavender, eiervrug, raap en pattypan saad present gekry waarvoor ek plek moet soek. Toe ontdek ek ook nog ‘n koekblik vol van my ma se saad hier in my garage. Sommige daarvan lyk of dit saam met Noag in die ark was, so ek weet nie of dit iets werd is nie – sal maar sien.

Nouja, die bossies roep my!

Na 3 dae en 3 nagte se reën…

6 Kommentaar

… gaan dit nou so in die tuin.

102_0480

Die blêrrie bossies is besig om oor te neem. Ek is vanoggend tuin toe met my emmer vol tuingereedskap, basilieplantjies, hark en ‘n ander hakding – nou gaan ek die bossies regsien en al wat ‘n Afrikaner-plantjie is in ‘n mooi ry langs die tamatie- en boontjiebeddings plant.

102_0467

Nodeloos om te sê dat ek naderhand skoon moedeloos was want die goed (Afrikaners en bossies) lyk alles dieselfde. Plantjies wat ek laat groei het menende dat dit ‘n Afrikaner is, het nou begin om ‘n horribale blompunt uit te stoot wat ek geen twyfel het is ‘n knapsekêrel. Nou weet ek nie wat is die ander goed wat ek so lustig uitgetrek het nie – beslis ‘n bossie maar nie meer ‘n knapsekêrel nie. Hier is die drie langs mekaar met die Afrikaner in die middel.

102_0471

Hier is ‘n paar afrikanerplantjies langs die uiebedding – ek het hulle geruik, dis beslis Afrikaners, dink ek.

102_0474

Hier ‘n hoe die baby marrows nou lyk – my ma reken net ‘n dag of twee dan is hulle almal teenage marrows.

102_0481102_0469

En hier is my pride and joy – die tamatiebedding.

102_0468

Ek het nou vanoggend ‘n klomp basielieplantjies oral om die tamaties geplant en die plante verder opgebind teen die stokke. En hulle het massas tamaties aan.

Ek het nou die eerste keer self spinasie gepluk – ek het al baie ander mense aangemoedig om te pluk maar dis die eerste wat ek self gepluk het. Ek het ook een beet uitgetrek om te sien hoe hulle lyk.

102_0476

Nouja, my rug is af en nog ‘n paar tekkies is vol modder en ek het nie ‘n duik in die bossies gemaak nie.

 

 

 

 

Radyse is koning

4 Kommentaar

My ma het nog altyd gesê dat mens ‘n bedding radyse in jou tuin moet hê want hulle groei so vinnig en dis so lekker om darem iets uit die tuin te kry terwyl die res van die groente nog groei.

Hier is die bedding voordat ek die grootste radyse uitgetrek het.
102_0459
Hier is ‘n foto van ‘n bossie van die radyse. Ek het ses sulke bossies uitgetrek en vir almal wat betrokke is by die tuin gegee. Ons het vanmiddag vars radyse in die slaai geëet en dit was heerlik!

102_0458

Hier is een van die drie-suster beddings. Hulle kom baie mooi aan maar ons moes verskeie van hulle twee keer plant. Ek dink daar was te veel mis in sommige van die damme want geen van die saadjies in hulle het ontkiem nie. Dit kon nie die voëls gewees het nie want die damme was almal toegemaak.

102_0455
Dis ongelooflik watter verskil laasweek se reën aan die tuin gemaak het.  Mens hoor behoorlik hoe die bossies groei. En toe moes ons nou wag totdat die afrikanerplantjies groter is om te kan sien watter plantjies is afrikaners en watter is knapsekêrels (klitse) – hulle lyk sowaar identies heel aan die begin.

Nouja, hou asseblief duim vas dat dit weer sal reën! Net hier, nie by Nelspruit nie- daar kan dit maar net koeler wees, want Ouboet en Ousus en ‘n klomp vriende het die maraton daar gaan hardloop en ek glo nie dis lekker om 42 km in die reën te hardloop nie.

Nou moet dit net reën…

4 Kommentaar

Al die beddings is nou geplant – óf met saailinge óf saad. So lyk die tuin nou:

.
102_0427_2102_0401

Die driesusterdamme lyk nogal fraai met die wit vierkantige bedekking van “frost guard” om die saadjies teen die voëls te beskerm totdat hulle kan ontkiem. Saad is nogal duur – R13 vir 3 pampoenpitte – daarom moet mens waak teen die hadedas. Ek het ook ‘n stryd om die honde uit die beddings te hou. Nala lyk asof sy heeltemal verstaan totdat sy in die middel van die spinasiebedding afgestap kom.

102_0435102_0419

Agter in die tuin is nou ‘n bedding vir stambome – en ook ‘n paar rye sweetcorn en dan ‘n ry rankboontjies in ‘n lang ry tussen die bome geplant. Nou moet ek nog net patats en sonneblomme plant.

102_0432102_0437

Ek het al die ou CD’s wat ek in die hande kon kry tussen die bome gehang en toe sommer ook ‘n paar plastieksakke bygesit – dit het Shiva nogal gefassineer, maar kom ons kyk of dit die voëls weghou van die saadjies af. Maar dit werk nie vir Millie nie – hier loop sy bo-oor die boontjiebedding. Ek dink sy is heeltemal te blonde om ooit te verstaan wat ‘n bedding is.

Die bure se tweejarige seuntjie het Saterdagmiddag sy pappa gehelp om die eierdoppe te breek en om die tamatieplantjies te strooi (om slakke te keer, sê hulle). Blykbaar was hy geweldig opgewonde oor die idee van plaaswerk, maar doodverveeld na hy die eerste plantjie bestrooi het.

Nou wag ons net vir die reën.

 

Die eerste plantjies is in!

3 Kommentaar

Saterdag het my tannie hier aangekom met ‘n magdom plantjies wat sy by ‘n mark vir ons gekoop het: drie pakkies tamatieplantjies, 3 spinasie, 4 verskillende uie, twee pakkies beet en een soetrissie. (Die plantjies is toegedraai is nat koerantpapier en met ‘n toutjie vasgebind.) En net toe sê my dierbare Skotse buurvrou ek kan haar tuinier leen vir die res van die dag, so dit kon net nie anders nie: die eerste plantjies moes in die grond in al wou ons eintlik wag vir die bossies om eers op te kom.
Hier is die eerste bedding soetrissies klaar geplant.
102_0367
Toe volg die tamatieplantjies – al 61 van hulle in een lang bedding. Nou moet ek nog basil en knoffel kry om langsaan te plant. Ons het darem afrikanersaad tussen die plantjies gestrooi en hopelik hou dit ook goggas weg.
102_0370
Amper al die beddings is nou beplant. Die spinasieplantjies is in ‘n lang ry aan weerskante van die bedding geplant en twee rye saad is in die middel van die bedding geplant. Die beet, wortels en radyse is gesaai. Ek onthou van kleintyd af het my ma altyd ‘n bedding radyse geplant want sy het gesê dis so bevredigend dat hulle binne drie weke reg is.
102_0371
Ek moet nou nog afrikanersaad koop want ons wil ‘n hele tyd weerskante van die paadjie langs die tamaties plant en sommer oral tussen die ander beddings. As William weer kom gaan die groot werk begin om die drie susters beddings reg te kry. Gelukkig het my tannie vir my ook mieliesaad gebring. Ek voel al soos ‘n regte boervrou!

Tuin update

7 Kommentaar

Ek het nooit ‘n foto opgelaai van hoe wetenskaplik ek en William die beddings uitgemerk het nie.
000_0003Verlede week het ek en William ‘n hele dag daaraan gespandeer om ‘n keermuurtjie bo-op die helling te bou sodat ons hele groentetuin nie wegspoel met die eerste groot reën nie. Ek het gedink daar is so baie klippe wat ons uitgegrawe het dat ons ‘n klipmuurtjie sal kan opstapel maar dit wou toe nie werk nie, en ons moes maar plaveiselstene tussen-in gebruik. Nou moet daar net grondbedekkers ingesit word om die grond op die skuinste vas te hou.
102_0325Vanoggend is die kraalmis afgelewer en vandag word al die beddings klaar voorberei.
102_0354Ons het vanoggend die res van die sanderige bogrond wat ons laas gekry het in die wortelbedding ingewerk want blykbaar hou wortels van sanderige grond sonder te veel bemesting, so daardie bedding moet beslis nie kraalmis kry nie. Ons het ook die ronde beddings uitgemerk waar ons die Drie Susters (mielies, boontjies en pampoene) gaan plant – drie meter uitmekaar. Ek hoop net dis genoeg spasie vir die pampoene, lemoenpampoentjies en baby marrows om te rank.

Ek het gister besluit ek moet vir my ‘n ander tuinslang koop – my rug is af van die swaar 30 meter tuinslang rondsleep. Ek glo ek sal dieselfde lengte nodig kry maar ek benodig net ‘n meer liggewig tuinslang wat makliker hanteer. Dan gaan ek ook ‘n loodgieter kry om vir my ‘n kraan net binne die kompleks se muur aan te lê – die groentetuin moet sy eie kraan hê anders gaan dit nooit werk nie.

My tannie was gister hier en sy sê ek bekommer my verniet so oor die bossies – sy reken as die groente begin groei smoor dit al die bossies. Ons sal maar sien. Maar intussen bekommer ek my meer oor hoe ons die voëls gaan keer om al ons saadjies te eet. Die groentetuin is nou ‘n voëlparadys en daar is gedurig ‘n hele swerm voëls besig om orals te grawe.

Sal julle op hoogte hou van hoe die bossies groei en wat die voëls doen.

Older Entries