Saterdag het my tannie hier aangekom met ‘n magdom plantjies wat sy by ‘n mark vir ons gekoop het: drie pakkies tamatieplantjies, 3 spinasie, 4 verskillende uie, twee pakkies beet en een soetrissie. (Die plantjies is toegedraai is nat koerantpapier en met ‘n toutjie vasgebind.) En net toe sê my dierbare Skotse buurvrou ek kan haar tuinier leen vir die res van die dag, so dit kon net nie anders nie: die eerste plantjies moes in die grond in al wou ons eintlik wag vir die bossies om eers op te kom.
Hier is die eerste bedding soetrissies klaar geplant.
102_0367
Toe volg die tamatieplantjies – al 61 van hulle in een lang bedding. Nou moet ek nog basil en knoffel kry om langsaan te plant. Ons het darem afrikanersaad tussen die plantjies gestrooi en hopelik hou dit ook goggas weg.
102_0370
Amper al die beddings is nou beplant. Die spinasieplantjies is in ‘n lang ry aan weerskante van die bedding geplant en twee rye saad is in die middel van die bedding geplant. Die beet, wortels en radyse is gesaai. Ek onthou van kleintyd af het my ma altyd ‘n bedding radyse geplant want sy het gesê dis so bevredigend dat hulle binne drie weke reg is.
102_0371
Ek moet nou nog afrikanersaad koop want ons wil ‘n hele tyd weerskante van die paadjie langs die tamaties plant en sommer oral tussen die ander beddings. As William weer kom gaan die groot werk begin om die drie susters beddings reg te kry. Gelukkig het my tannie vir my ook mieliesaad gebring. Ek voel al soos ‘n regte boervrou!