Ek weet regtig nie hoekom ek so haastig is om die weke om te kry nie. Waarvoor jaag ek van naweek na naweek? Elke Maandagoggend begin ek uitsien na Woensdag – net twee slapies weg – want ek weet dan is die naweek net om die draai. Waddehel!! (Ek moes hierdie uitdrukking by die jeug leen – baie sprekend.) Ek is tog al oud genoeg om te weet dat dit kosbare tyd is wat ek omwens en dat ek met elke asemteug net ouer word.

Ek onthou hoe stadig die tyd omgegaan het toe ek klein was. ‘n Skooljaar was ‘n leeftyd lank. Ek kry die ander dag die beste verduideliking vir hierdie verskynsel. As ‘n mens klein is, het jy nog nie lank geleef nie en jy ervaar die verloop van tyd in verhouding met hoe lank jy geleef het. Soos jy langer leef voel dit asof die tyd vinniger verbygaan maar dis net omdat jy dit ervaar in verhouding met die tyd wat jy al geleef het. Dit klink nou deurmekaar, maar dit het op die tyd vir my sin gemaak.

Hierdie afgelope week het in ‘n warboel by my verbygejaag. Ouboet maak ‘n kortfilm vir Kyknet se Silwerskerm filmfees. (Hy het eintlik al in 2009 daarmee begin maar het nie geld gehad om dit van die grond af te kry nie.) Intussen het hy massas goed uit my huis geleen om op die stel te gebruik: boekrakke, kratte vol boeke, plantstaanders, koffietafels, matte, lampe, ornamente, ens. Tot die ou yskas wat in die garage staan. Die ergste van alles is dat hy tussendeur nog ‘n vollengte film moes voltooi wat hulle ook ingedien het vir die ander kategorie op die filmfees.  Toe hy en sy meisie Donderdagoggend halfvier hier aankom nadat hulle klaargewerk het aan “Koringberg” (wat die volgende dag ingedien moes word), het ek besef dat ek nie onverhoeds in my bed betrap sal word deur ‘n skelm nie. Elke hond in hierdie huis het heeltemal beserk geraak – Ousus se Lia is ook hier want sy het die naweek gaan ski in Lesotho.

Om alles te kroon, het ek gedink ek sal oulik wees en aangebied om kos te maak vir die filmspan vir Vrydag en Saterdag se skietsessies. Dit sou seker alles goed uitgedraai het as Katriena nie siek geword het nie. Ja, nè, oulike ek moet toe tienuur elke oggend middagete en aandete en snacks vir 10 mense klaar gereed hê om opgetel te word. En ek is nie ‘n oggendmens nie, en ek operate nie goed as Katriena nie hier neffens my staan nie. Ek het dit oorleef, maar ek het lanklaas soveel skottelgoed gewas en soveel geswets daaroor.

Gistermiddag het die tyd darem ‘n bietjie stadiger omgegaan toe ek en my suster “Rigoletto” by die Brooklyn Teater gaan kyk het. Ek kry komplimentêre kaartjies omdat ek vir hulle redigering doen. Dis verstommend om te sien hoe dit moontlik is om ‘n opera op ‘n ‘shoestring’ aan te bied. Daar was nie ‘n koor nie, net die ses hoofkarakters, en ‘n orkes met ses lede. ‘n Verteller het die gapings tussen-in ingekleur. Fantasties! Die gehoor het soos een man opgespring aan die einde om hulle toe te juig. Musical culture is alive and well and living in Pretoria.

En dan het ek ook nog Vrydag 10 nuwe boeke gekry van die damestydskrif vir wie ek boeke lees – saam met alles het ek al een klaargelees: ‘Skrapnel’ van Irma Venter, ‘n waardige opvolger vir haar debuut ‘Skoenlapper’. Nouja, laat ek aan die werk kom. Alles is bietjie agter met al die opwinding van verlede week.